Sunday, July 28, 2019

Wie jy is

"Never sacrifice who you are just because someone has a problem with it" - unknown

Daardie gesegte is my motto in die lewe. Moet nooit toegee wie presies jy is omdat iemand 'n probleem daarmee het nie. Daar gaan altyd mense wees wat juis daardie probleem gaan hê wie jy is omdat jy nie volgens hul standaarde leef nie. Ek weet uit ervaring uit.

Mense sê altyd wees jouself, maar is nooit tevrede as jy jou ware self aan hulle wys nie. Maak vrede met die feit jy kan nie almal tevrede stel nie al probeer jy hoe hard. Ek sê altyd jy kan nie almal gelukkig maak nie want jy is nie Lindt sjokolade nie. Dit is een les wat ek soms op die harde manier geleer het deur die jare.

Ek glo ook vas daaraan as jy moet toegee wie jy is as 'n mens, gaan jy jouself nie eens ken nie. Ek sou eens nie myself geken het as ek na mense se standaarde gelewe het nie. Ek sou 'n totale vreemdeling vir myself en vir my naastes gewees het.

Ek weet ek kan nie volgens mense se standaarde leef nie. Ek dink anders en sien anders as mense van my eie kultuur en wat my taal praat soms. Ek is trots waar vandaan ek kom en is trots op die mens wie ek vandag is. As ek moes anders wees en anders leef, wie sou ek dan gewees het en sou ek trots gewees het op myself? Dalk? Dalk nie?

Ek glo daaraan om jouself te wees. Jy gaan mense kry wat nie van jou gaan hou juis oor wie jy is as mens nie. Dalk is dit kleredrag, jou styl, dalk daardie tattoo op jou arm wat mense se hare laat rys en na hul Bybels gryp, of jou beginsels wat mense laat frons.

Maar ek glo jy hoef geensins jouself aan mense te verduidelik nie. Ek hoef nie my besluite, my beginsels of my leefwyse aan mense te verduidelik nie want ek is verantwoordelik daarvoor. Ek hoef nie verskoning te vra aan mense wie jy is as mens nie want ek skuld mense geen verskoning nie. Om heeltyd jouself aan mense te verduidelik is uitputtend om die minste te sê.

Moenie opgee wie jy is as mens nie. Leef jou lewe volgens jou reëls en moenie jouself bekommer wat ander mense dink van jou nie. Dit is nie hulle wat jou lewe ly nie. Dit is net jy wat dit kan doen.

No comments:

Post a Comment