Sunday, July 28, 2019

Die Wind Van Voor

Die lewe is mooi, maar somtyds kan dit net ‘n bitch wees op ‘n baie goeie dag. Of stel dit so, die lewe is ‘n bitch op ‘n baie slegte dag. Die lewe is vol mooi dinge, maar dit is ingewikkeld met reëls en standaarde en so aan. Almal sukkel, sukkel, hoekom is dit ingewikkeld? Dit is wat Karen Zoid vra in haar een lied Familie Reunie. Almal kry die wind van voor, ongeag waarvandaan jy kom.

Ek het verlede jaar so ‘n ent gaan stap saan met my Pa net so voor die Cape Town Marathon. Ons was daar by Rondebosch en het net ‘n kilometer of twee gestap, iets wat ek maklik kan doen. Maar nie op daardie dag nie. Die Suid Ooster was so sterk gewees dat ek gesukkel het om by te hou juis omdat hy my van voor gevang het. Ek het onfiks en basies onvoorbereid gevoel.

En dit is hoe byna elke aspek van die lewe is. Verwag die onverwagte en wees voorbereid vir alles wat die lewe gooi. Die afgelope paar maande was vir my die moeilikste gewees want daar was geen voorbereiding gewees op wat op my sou kom nie. Ek het by tye broos en weerloos gevoel teen die aanslae van die lewe, maar meestal het ek moeg en gedreineerd gevoel. Asof ek hard geskop was terwyl ek gelê het. Om sonder jou geliefde troeteldier te lewe of om ‘n vriend aan kanker te verloor is om dele van jou lewe te verloor. Dit is soos om sonder ‘n ledemaat te leef; jy leer om daarmee te leef, maar jy is nooit weer dieselfde nie.

Die lewe is broos en ingewikkeld. Dit voel soms vir my asof die wêreld teen my is en ek voel party dae asof ek ten hemele wil skree, maar ek besef bitter gou die wêreld dra nie skuld by jou nie en dat ek dalk net ‘n bietjie ondankbaar is want daar is mense daar buite wat alleen deur die lewe gaan. Wat gaan vir die een persoon, geld ook vir my somtyds. Daar is dae dat ek broos en weerloos voel. Daar is dae dat ek wil huil, of net skree. Maar aan die anderkant het ek lug in my longe, ‘n dak oor my kop en kos op my tafel elke aand. Soos met die dag in Rondebosch, kry ek die wind van voor elke dag. Maar weereens kan ek elke aand gaan slaap met ‘n dak oor my kop terwyl dit reën of wanneer die wind so koud waai.

Die lewe is een baie groot bitch, maar somtyds is dit net ek wat vergeet van hoe mooi die lewe ook kan wees. Ek het dit vanoggend besef vanoggend in die Kerk. Ek het agter ‘n familie gesit met ‘n baba seun. Terwyl ek moes sing saam met die gemeente, het ek vir die baba geglimlag en goofy uitdrukkings gemaak. Die lewe is moeilik en ingewikkeld, maar dit tel en dit is kosbaar.

Die lewe is ingewikkeld, dit is somtyds hel op aarde. Maar terwyl daar musiek op die luidsprekers is, dans al het jy nie die beste ritme of dansbewegings nie en sing asof niemand jou kan hoor nie, al sing jy hoe vals en jou hond loop weg. Die lewe is moeilik ja. Maar soos iemand wat ek baie goed geken het altyd gesê het: “kyk noord en fok voort”. Dit is hard, maar jy moet die stof van die grond afskud nadat jy hard geval het, die bul by die horings pak en sterk wees. Handleidings kan jou dalk help met ‘n paar kwellende kwessies, maar dit hang van jou af of jy daardie handleiding se raad gaan volg. Dit hang net van jou af of jy gaan opstaan en die lewe weer in die oë kyk.

Vreesloos

Mense skep verwagtinge oor wie jy moet wees en wat jy moet wees. Moenie daardie tattoo kry nie of moenie daardie Mr. Price stywe jean kry nie want mense gaan die verkeerde idees kry van jou as mens. Mense doen dit tog so hoekom probeer jy so damn hard om iemand te wees wat jy nie is. Mense se verwagtinge kan als in een woord opgesom word. Standaarde. Niks meer nie en niks minder nie.

Ek het ‘n post hierdie week op Facebook gedeel van watter verwagtinge mense het van jou. Mense sal byvoorbeeld vra hoekom ek nie ‘n kêrel het nie. Of nog nie getroud is nie. Ek is 37 jaar oud en dit is vir seker natuurlik om te verwag dat ek getroud moet wees met kinders of ten minste ‘n kêrel het. Ons lewe nie in die 1960’s waar ‘n vrou op 21 getroud moet wees en dit als uitgepluis hê teen 25 jaar oud nie. Ek is gelukkig om vir nou enkellopend te wees en ‘n bietjie onafhanklik te wees. En boonop is dit nooit te laat vir enige iets nie.

Ek het ‘n paar weke gelede ‘n foto wat in 2004 geneem is op sosiale media gedeel van my toe ek vir ‘n naweek weg was op Kagga Kamma by die Sederberge in die Weskaap. Op daardie foto het ek lang swart hare gehad wat los was oor my skouers. Ek het jare later my hare korter gesny in ‘n bob styl. Ek het nou kort hare nadat ek moeg geraak het van die bob styl. Mense het my amper gesmeek om my hare weer te laat groei omdat ek beter gelyk het met lang hare, volgens hulle. Ek het volstrek geweier omdat ek hou van kort hare en lang hare vir my teveel moeite was om te was en droog te blaas. Ek het in elkgeval my hare net in een styl gedra. In ‘n poniestert agter my kop. Hoe stylvol van my né?

In 2016 het ek vir die eerste keer in baie jare ‘n rok gedra. Ek was een van die bruidsmeisies by my suster se troue. Ek het van die oog af baie mooi gelyk in die lang swart rok, maar op die dag van my suster se troue byna my naam met ‘n plank geslaan voor ‘n hele paar gaste toe ek byna ‘n Jennifer Lawrence by die kansel gedoen het. Rokke, hoë hak skoene en ek was amper ‘n rampspoedige kombinasie daardie dag gewees. Ek het van daardie dag nooit weer ‘n rok gedra nie, ten spyte van mense wat my gesmeek het om ‘n rok te dra by sekere geleenthede.

Lang hare, lang en kort rokke en hoë hak skoene is nie wie ek is nie, al verwag en hoop mense dat ek ten minste sal verander. Mense se verwagtinge van my en dit op hierdie stadium van my lewe is ‘n resep vir teleurstelling. Ek is enkellopend want dit is die lewe wat ek verkies. Ek dra nie rokke en hoë hak skoene nie want ek kan netsowel ‘n vreemdeling vir myself wees as ek rond paradeer in ‘n rok en skoene waarin ek skaars my balans kan hou. Ek hou van my hare kort want dit is wie ek is vandag.

Mense sal nie eintlik baie gelukkig wees oor my lewenskeuses, maar ek glo dat elke mens hul lewe moet leef sonder verskonings. Ek is wie ek is sonder vrees en sonder enige verskonings. Ek is vreesloos as ek wys wie presies ek is. Ek is nie skaam om by ‘n toekenningsaand of geleentheid in ‘n broekpak op te daag of my hare kort te dra nie. Want ek sal ‘n totale vreemdeling wees vir myself as ek rokke en hoë hak skoene moes dra, met lang donker hare en ‘n man langs my sy.

Wees net jouself in ‘n wêreld waar die mensdom jou probeer verander om in jou standaarde in te pas. Ek pas nie by mense se ideale oor my nie en ek is okay daarmee. Want ek is myself sonder enige verskonings of vrees oor wat mense van my eintlik dink. Glo my, mense kan nooit tevrede gestel word as jy te hard probeer. Die beste raad wat ek het vir jou is om net jouself te wees.

So hier is ek aan die wêreld wat my probeer verander. Al mens wat haarself moet aanvaar is ek. Niemand anders nie.

Buite Die Lyne

Ek is grootgemaak met die siening dat ons almal gelyk geskape is deur God die almagtige. Laat ek ook begin om te sê dat ek nie hierdie inskrywing doen om my sienings, menings en kommentaar wat ek op sosiale media platforms lewer aan mense af te forseer nie, al is ek vir jare daarvan beskuldig dat ek dit wel doen. My sienings en menings is bloot net myne om te lewer. Dit is jou keuse om saam met my te stem of nie. Jy is welkom om iets opbouends en waardevol te sê. Maar ek gaan nie toelaat dat jy my persoonlik gaan aanval of in my karakter gaan inklim nie. Daar gaan ek beslis 'n streep trek.

Ek het vrede gemaak met die siening dat ek nie eintlik gaan inpas by 'n spesifieke groepie mense se morele standaarde nie. Ek hoef dit nie te doen nie. Ek gaan dit nie eens probeer nie want dan gaan ek myself glad nie eens ken nie. Nêrens in Suid Afrika is dit teen die wet om anders te dink as jou eie kultuur nie. Daar bestaan nie eens so 'n wet in die Bybel nie.

En ja. Ek was al op sosiale media gekritiseer oor my siening dat elke ras en kultuur deur misdaad geraak word. Ek was al ook afgeknou daaroor. My stelling was al as "betreuenswaardig" gesien deur iemand op veg vir slagoffers. As mense sê hulle baklei vir misdaadslagoffers in Suid Afrika, hoekom raak hulle so dan ontsteld as ek dit vir hulle sê?

Ek is 'n persoon wat nie bang is om buite die lyne in te kleur nie. Ek is nie bang om op te staan vir mense wat minder as ek het nie. Ek is nie bang om stil te bly sodat mense gemaklik kan voel in hul idee van hoe dinge werk nie. Want mense onthou nie dié wat ander mense volg soos 'n dwase skaap nie. Mense word onthou dat hulle uitgestaan het bo die res en nie bang was om anders te dink nie.

Ek glo vas daarvan dat elke mens wat deur God geskape is geregtig is op liefde en respek. Niemand is beter as die een wat langs hom of haar in 'n winkel sal staan nie of in 'n trein sal staan oppad werk toe of huistoe nie. Die eienskap van mense is wanneer hulle neersien op ander juis omdat hulle anders is. Wat my kwaad maak is dat mense ander sal slegmaak, boelie en afknou op sosiale media omdat daardie mens braaf genoeg was om buite die lyne in te kleur.

Ek gaan eerlik wees en sê ek het my fair share daarvan gehad deur die jare, maar as ek na soveel jaar nog nie van standpunt gaan verander nie, wat is die kanse dat ek dit vandag gaan doen? Dink 'n bietjie na daaroor.

Wie jy is

"Never sacrifice who you are just because someone has a problem with it" - unknown

Daardie gesegte is my motto in die lewe. Moet nooit toegee wie presies jy is omdat iemand 'n probleem daarmee het nie. Daar gaan altyd mense wees wat juis daardie probleem gaan hê wie jy is omdat jy nie volgens hul standaarde leef nie. Ek weet uit ervaring uit.

Mense sê altyd wees jouself, maar is nooit tevrede as jy jou ware self aan hulle wys nie. Maak vrede met die feit jy kan nie almal tevrede stel nie al probeer jy hoe hard. Ek sê altyd jy kan nie almal gelukkig maak nie want jy is nie Lindt sjokolade nie. Dit is een les wat ek soms op die harde manier geleer het deur die jare.

Ek glo ook vas daaraan as jy moet toegee wie jy is as 'n mens, gaan jy jouself nie eens ken nie. Ek sou eens nie myself geken het as ek na mense se standaarde gelewe het nie. Ek sou 'n totale vreemdeling vir myself en vir my naastes gewees het.

Ek weet ek kan nie volgens mense se standaarde leef nie. Ek dink anders en sien anders as mense van my eie kultuur en wat my taal praat soms. Ek is trots waar vandaan ek kom en is trots op die mens wie ek vandag is. As ek moes anders wees en anders leef, wie sou ek dan gewees het en sou ek trots gewees het op myself? Dalk? Dalk nie?

Ek glo daaraan om jouself te wees. Jy gaan mense kry wat nie van jou gaan hou juis oor wie jy is as mens nie. Dalk is dit kleredrag, jou styl, dalk daardie tattoo op jou arm wat mense se hare laat rys en na hul Bybels gryp, of jou beginsels wat mense laat frons.

Maar ek glo jy hoef geensins jouself aan mense te verduidelik nie. Ek hoef nie my besluite, my beginsels of my leefwyse aan mense te verduidelik nie want ek is verantwoordelik daarvoor. Ek hoef nie verskoning te vra aan mense wie jy is as mens nie want ek skuld mense geen verskoning nie. Om heeltyd jouself aan mense te verduidelik is uitputtend om die minste te sê.

Moenie opgee wie jy is as mens nie. Leef jou lewe volgens jou reëls en moenie jouself bekommer wat ander mense dink van jou nie. Dit is nie hulle wat jou lewe ly nie. Dit is net jy wat dit kan doen.

Plekkie in die Son

Almal verdien 'n plekkie in die son. Elke ras, elke kultuur in Suid Afrika verdien hul plekkie. Niemand is verhewe bo die res nie. Almal verdien dieselfde soort liefde en respek. Ek is geensins beter as die persoon wat langs my in 'n winkel staan nie. Ek is geensins beter as die Kassier wat my help in die Spar elke oggend as ek 'n bottel 1.5L water.

Ek het hierdie stukkie van jongs af geleer. Ek is geleer dat niemand verdien om neergesien te word nie en as dit ooit met jou gebeur, jy weet presies wat jou waarde is en hoeveel jy bydra in die lewe.

Wysheid het my geleer dat respek sny beide kante toe. Jy kan nie respek verwag van mense as jy dit nie wys aan mense nie. Wysheid het my geleer jy kan nie mense boelie net omdat hulle nie dieselfde is as jy nie, of selfs dieselfde dink as jy nie. Almal besit die reg om anders oor die lewe te besin.

Ons is almal gelyk geskape. Ons het almal iets om by te dra in die lewe. Ons is almal deel van die mensdom. Ons almal verdien geluk. Ons almal verdien liefde. Ons almal verdien respek. Ons moet net medemenslik teenoor mekaar optree. En in vrede met mekaar kan leef.

Want daar is soveel negatiewe dinge wat ons lewens versuur. Wat as ons almal iets positiefs kan bydra? Die wêreld sou 'n soveel beter plek gewees het as dit was. Want ons almal verdien 'n plekkie in die son.