Sunday, July 28, 2019

Die Wind Van Voor

Die lewe is mooi, maar somtyds kan dit net ‘n bitch wees op ‘n baie goeie dag. Of stel dit so, die lewe is ‘n bitch op ‘n baie slegte dag. Die lewe is vol mooi dinge, maar dit is ingewikkeld met reëls en standaarde en so aan. Almal sukkel, sukkel, hoekom is dit ingewikkeld? Dit is wat Karen Zoid vra in haar een lied Familie Reunie. Almal kry die wind van voor, ongeag waarvandaan jy kom.

Ek het verlede jaar so ‘n ent gaan stap saan met my Pa net so voor die Cape Town Marathon. Ons was daar by Rondebosch en het net ‘n kilometer of twee gestap, iets wat ek maklik kan doen. Maar nie op daardie dag nie. Die Suid Ooster was so sterk gewees dat ek gesukkel het om by te hou juis omdat hy my van voor gevang het. Ek het onfiks en basies onvoorbereid gevoel.

En dit is hoe byna elke aspek van die lewe is. Verwag die onverwagte en wees voorbereid vir alles wat die lewe gooi. Die afgelope paar maande was vir my die moeilikste gewees want daar was geen voorbereiding gewees op wat op my sou kom nie. Ek het by tye broos en weerloos gevoel teen die aanslae van die lewe, maar meestal het ek moeg en gedreineerd gevoel. Asof ek hard geskop was terwyl ek gelê het. Om sonder jou geliefde troeteldier te lewe of om ‘n vriend aan kanker te verloor is om dele van jou lewe te verloor. Dit is soos om sonder ‘n ledemaat te leef; jy leer om daarmee te leef, maar jy is nooit weer dieselfde nie.

Die lewe is broos en ingewikkeld. Dit voel soms vir my asof die wêreld teen my is en ek voel party dae asof ek ten hemele wil skree, maar ek besef bitter gou die wêreld dra nie skuld by jou nie en dat ek dalk net ‘n bietjie ondankbaar is want daar is mense daar buite wat alleen deur die lewe gaan. Wat gaan vir die een persoon, geld ook vir my somtyds. Daar is dae dat ek broos en weerloos voel. Daar is dae dat ek wil huil, of net skree. Maar aan die anderkant het ek lug in my longe, ‘n dak oor my kop en kos op my tafel elke aand. Soos met die dag in Rondebosch, kry ek die wind van voor elke dag. Maar weereens kan ek elke aand gaan slaap met ‘n dak oor my kop terwyl dit reën of wanneer die wind so koud waai.

Die lewe is een baie groot bitch, maar somtyds is dit net ek wat vergeet van hoe mooi die lewe ook kan wees. Ek het dit vanoggend besef vanoggend in die Kerk. Ek het agter ‘n familie gesit met ‘n baba seun. Terwyl ek moes sing saam met die gemeente, het ek vir die baba geglimlag en goofy uitdrukkings gemaak. Die lewe is moeilik en ingewikkeld, maar dit tel en dit is kosbaar.

Die lewe is ingewikkeld, dit is somtyds hel op aarde. Maar terwyl daar musiek op die luidsprekers is, dans al het jy nie die beste ritme of dansbewegings nie en sing asof niemand jou kan hoor nie, al sing jy hoe vals en jou hond loop weg. Die lewe is moeilik ja. Maar soos iemand wat ek baie goed geken het altyd gesê het: “kyk noord en fok voort”. Dit is hard, maar jy moet die stof van die grond afskud nadat jy hard geval het, die bul by die horings pak en sterk wees. Handleidings kan jou dalk help met ‘n paar kwellende kwessies, maar dit hang van jou af of jy daardie handleiding se raad gaan volg. Dit hang net van jou af of jy gaan opstaan en die lewe weer in die oë kyk.

No comments:

Post a Comment