Sunday, July 28, 2019

Buite Die Lyne

Ek is grootgemaak met die siening dat ons almal gelyk geskape is deur God die almagtige. Laat ek ook begin om te sê dat ek nie hierdie inskrywing doen om my sienings, menings en kommentaar wat ek op sosiale media platforms lewer aan mense af te forseer nie, al is ek vir jare daarvan beskuldig dat ek dit wel doen. My sienings en menings is bloot net myne om te lewer. Dit is jou keuse om saam met my te stem of nie. Jy is welkom om iets opbouends en waardevol te sê. Maar ek gaan nie toelaat dat jy my persoonlik gaan aanval of in my karakter gaan inklim nie. Daar gaan ek beslis 'n streep trek.

Ek het vrede gemaak met die siening dat ek nie eintlik gaan inpas by 'n spesifieke groepie mense se morele standaarde nie. Ek hoef dit nie te doen nie. Ek gaan dit nie eens probeer nie want dan gaan ek myself glad nie eens ken nie. Nêrens in Suid Afrika is dit teen die wet om anders te dink as jou eie kultuur nie. Daar bestaan nie eens so 'n wet in die Bybel nie.

En ja. Ek was al op sosiale media gekritiseer oor my siening dat elke ras en kultuur deur misdaad geraak word. Ek was al ook afgeknou daaroor. My stelling was al as "betreuenswaardig" gesien deur iemand op veg vir slagoffers. As mense sê hulle baklei vir misdaadslagoffers in Suid Afrika, hoekom raak hulle so dan ontsteld as ek dit vir hulle sê?

Ek is 'n persoon wat nie bang is om buite die lyne in te kleur nie. Ek is nie bang om op te staan vir mense wat minder as ek het nie. Ek is nie bang om stil te bly sodat mense gemaklik kan voel in hul idee van hoe dinge werk nie. Want mense onthou nie dié wat ander mense volg soos 'n dwase skaap nie. Mense word onthou dat hulle uitgestaan het bo die res en nie bang was om anders te dink nie.

Ek glo vas daarvan dat elke mens wat deur God geskape is geregtig is op liefde en respek. Niemand is beter as die een wat langs hom of haar in 'n winkel sal staan nie of in 'n trein sal staan oppad werk toe of huistoe nie. Die eienskap van mense is wanneer hulle neersien op ander juis omdat hulle anders is. Wat my kwaad maak is dat mense ander sal slegmaak, boelie en afknou op sosiale media omdat daardie mens braaf genoeg was om buite die lyne in te kleur.

Ek gaan eerlik wees en sê ek het my fair share daarvan gehad deur die jare, maar as ek na soveel jaar nog nie van standpunt gaan verander nie, wat is die kanse dat ek dit vandag gaan doen? Dink 'n bietjie na daaroor.

No comments:

Post a Comment