Sunday, July 28, 2019

Vreesloos

Mense skep verwagtinge oor wie jy moet wees en wat jy moet wees. Moenie daardie tattoo kry nie of moenie daardie Mr. Price stywe jean kry nie want mense gaan die verkeerde idees kry van jou as mens. Mense doen dit tog so hoekom probeer jy so damn hard om iemand te wees wat jy nie is. Mense se verwagtinge kan als in een woord opgesom word. Standaarde. Niks meer nie en niks minder nie.

Ek het ‘n post hierdie week op Facebook gedeel van watter verwagtinge mense het van jou. Mense sal byvoorbeeld vra hoekom ek nie ‘n kêrel het nie. Of nog nie getroud is nie. Ek is 37 jaar oud en dit is vir seker natuurlik om te verwag dat ek getroud moet wees met kinders of ten minste ‘n kêrel het. Ons lewe nie in die 1960’s waar ‘n vrou op 21 getroud moet wees en dit als uitgepluis hê teen 25 jaar oud nie. Ek is gelukkig om vir nou enkellopend te wees en ‘n bietjie onafhanklik te wees. En boonop is dit nooit te laat vir enige iets nie.

Ek het ‘n paar weke gelede ‘n foto wat in 2004 geneem is op sosiale media gedeel van my toe ek vir ‘n naweek weg was op Kagga Kamma by die Sederberge in die Weskaap. Op daardie foto het ek lang swart hare gehad wat los was oor my skouers. Ek het jare later my hare korter gesny in ‘n bob styl. Ek het nou kort hare nadat ek moeg geraak het van die bob styl. Mense het my amper gesmeek om my hare weer te laat groei omdat ek beter gelyk het met lang hare, volgens hulle. Ek het volstrek geweier omdat ek hou van kort hare en lang hare vir my teveel moeite was om te was en droog te blaas. Ek het in elkgeval my hare net in een styl gedra. In ‘n poniestert agter my kop. Hoe stylvol van my né?

In 2016 het ek vir die eerste keer in baie jare ‘n rok gedra. Ek was een van die bruidsmeisies by my suster se troue. Ek het van die oog af baie mooi gelyk in die lang swart rok, maar op die dag van my suster se troue byna my naam met ‘n plank geslaan voor ‘n hele paar gaste toe ek byna ‘n Jennifer Lawrence by die kansel gedoen het. Rokke, hoë hak skoene en ek was amper ‘n rampspoedige kombinasie daardie dag gewees. Ek het van daardie dag nooit weer ‘n rok gedra nie, ten spyte van mense wat my gesmeek het om ‘n rok te dra by sekere geleenthede.

Lang hare, lang en kort rokke en hoë hak skoene is nie wie ek is nie, al verwag en hoop mense dat ek ten minste sal verander. Mense se verwagtinge van my en dit op hierdie stadium van my lewe is ‘n resep vir teleurstelling. Ek is enkellopend want dit is die lewe wat ek verkies. Ek dra nie rokke en hoë hak skoene nie want ek kan netsowel ‘n vreemdeling vir myself wees as ek rond paradeer in ‘n rok en skoene waarin ek skaars my balans kan hou. Ek hou van my hare kort want dit is wie ek is vandag.

Mense sal nie eintlik baie gelukkig wees oor my lewenskeuses, maar ek glo dat elke mens hul lewe moet leef sonder verskonings. Ek is wie ek is sonder vrees en sonder enige verskonings. Ek is vreesloos as ek wys wie presies ek is. Ek is nie skaam om by ‘n toekenningsaand of geleentheid in ‘n broekpak op te daag of my hare kort te dra nie. Want ek sal ‘n totale vreemdeling wees vir myself as ek rokke en hoë hak skoene moes dra, met lang donker hare en ‘n man langs my sy.

Wees net jouself in ‘n wêreld waar die mensdom jou probeer verander om in jou standaarde in te pas. Ek pas nie by mense se ideale oor my nie en ek is okay daarmee. Want ek is myself sonder enige verskonings of vrees oor wat mense van my eintlik dink. Glo my, mense kan nooit tevrede gestel word as jy te hard probeer. Die beste raad wat ek het vir jou is om net jouself te wees.

So hier is ek aan die wêreld wat my probeer verander. Al mens wat haarself moet aanvaar is ek. Niemand anders nie.

No comments:

Post a Comment