Thursday, August 1, 2019

Boksies

Wees jouself. Altyd. Dit is die raad wat baie mense uitdeel aan ander. Wees net jouself van God het jou uniek gemaak. Soveel van dit is baie waar. God het jou en elke mens op hierdie planeet uniek gemaak. Ongelukkig is dit maar 'n teleurstelling om te sien dat mense verwagtinge van hul medemense skep, al sê hulle so baie kere vir daardie mense om hulself te wees want die regte mense sal lief wees vir hulle, reg?

Want jy gaan as mens tog geoordeel word as jy jou ware self is. Soos byvoorbeeld daardie Mr. Price toppie wat te styf is, of daardie tattoo op jou arm wat van jou 'n duiwel maak, of dalk miskien is dit die smaak van die musiek wat jy luister of die boeke wat jy lees. Of dit is dalk jou persoonlikheid of die feit dat jy 'n ekstrovert is. Maak nie saak wie jy is of hoe jy jou lewe leef nie, jy gaan tog geoordeel word want mense meet jou aan hul standaarde.

Ek dink baie die afgelope twee dae aan standaarde van die samelewing. Wat mense van my verwag as mens. Ek was Sondagaand by 'n toekenningsaand in Kaapstad. Dit was 'n bietjie op die nippertjie vir my so ek moes omtrent buite die boks dink toe dit kom by wat ek gaan aantrek by so 'n glansryke geleentheid. Sulke aande laat altyd my senuwees knaag want ek weet nie noodwendiglik wat goed genoeg is nie.

Ek het besluit op 'n broek, 'n baie mooi geblomde top en skoene. Ongelukkig kon ek nie hoë hak skoene dra nie want ek het my enkel liggies seergemaak die vorige dag. Onder daardie omstandighede het ek heel mooi gelyk, en so het vele vroue wat ook mooi broekpakke gedra het in plaas van aandrokke. So ek het darem nie heeltemal alleen gevoel daardie aand in die uitrusting departement.

Maar soms sal daar altyd daardie een of miskien twee wees wat wonder hoekom ek nie rokke dra nie. Laat ek dit so stel. Ek het in 2016 laas 'n lang rok gedra met my suster se troue en nooit weer daarna nie. Dit is nie omdat ek my naam so byna met 'n plank geslaan toe ek amper voor die kansel geval het nie. Dit is as ek 'n rok onder enige omstandighede dra, sal ek nooit gemaklik voel of regtig myself wees nie. Ek sal basies 'n vreemdeling vir myself wees.

Dit is een van die voorbeelde hoekom ek my eie standaarde het wanneer dit kom by sulke klein besluite oor wat om te dra of hoe ek my hare moet dra. Of watter leefstyl ek handhaaf en watter keuses ek maak in die lewe. Dit bly op die ou einde my lewe, my keuses, of ek daardie stywe jean moet dra, of daardie veelbesproke boek moet koop, of 'n hele slab sjokolade by myself moet eet, dit bly my keuse. Dit bly my standaarde en ek verwag nie dat iemand anders dit ook moet leef nie. Ek kan nie mense tevrede of gelukkig maak omdat ek nie volgens hul standaarde leef nie. En ek het daardie reg om nie my standaarde aan enige iemand te verduidelik nie.

Elkeen het hul eie standaarde waarvolgens hulle leef. Elke mens in hierdie land is uniek. Elke mens maak hul eie reëls en leef daarvolgens. Maar ongelukkig skep mense ook verwagtinge van ander, sonder om te besef dat ons almal uniek is. Niemand verdien om in boksies ingedeel word nie, want elkeen het daardie vrye reg om te leef soos sy of hy wil leef.

Ek leef volgens my eie standaarde en is heeltemal gelukkig daarmee. Soos elke mens gelukkig is met sy of haar standaarde, of reëls, as mens dit so kan noem. Die hartseer feit van ons samelewing is dat ons as mense teleurgestel word omdat ander nie volgens hul verwagtinge of standaarde leef nie. En dat mense figuurlik gesproke in boksies ingedeel word.